Parlour toe!

Daar is geen persoon wat die konsep van verveeldheid beter verstaan as ʼn onlangse gegradueerde nie, en meer spesifiek ʼn onlangse gegradueerde sonder werk. Dit is Januarie maand, terug van my eerste see-vakansie sedert ek 12 was, en my komende dae lyk maar vaal.  

Tussen werksoek, om die blok draf met my kon-‘n plasie-koop-vir-die-prys tekkies en woonstel deposito’s wat sukkel-sukkel terugbetaal word, is daar nie veel om te doen by die huis nie. Om die kwale van verveeldheid te vererger is meeste van my vriende landuit of het reeds voltydse werke. Alleen sit in ʼn koffiewinkel is nou nie almal se koppie tee nie.  

Om myself besig te hou en uit enige kwaad het ek besluit om hierdie tyd as ʼn geleentheid te gebruik om my nuwejaarsvoornemens aan te pak. In plaas van die clichés soos “ophou rook” of “gewig verloor”, wil ek eerder leer hoe om ʼn Baked Alaska te bak, ʼn stuk lap in ʼn romp verander, en natuurlik meer tyd bestee aan hierdie blog (ek blameer my Honneurs skripsie vir die lange stilte).

img_0004

Ek het met die deur by die huis ingeval en iets op die lysie gekies wat relevant is aan hierdie blog: ʼn roomyskoek. Regdeur my kinderjare was daar altyd ʼn roomyskoek betrokke by een of ander geleentheid. Toe ek twee geword het, het my tannie Elsabé vir my ʼn ballerina beertjie-roomyskoek bestel – ʼn roomyskoek wat so lekker was dat ek dit tot vandag toe nog onthou. Toe ons my broer se verjaarsdag iewers in die 1990’s gevier het, was daar ʼn Garfield-roomyskoek, een waarvan die versiering so lekker taai was. En toe nog een laaste keer op my 16de – dit het ʼn beeld van ʼn draaitafel bo-op gehad en was wit en pienk.

Nadat ek  ʼn roomyskoek-resep in ʼn tydskrif verlede jaar raakgelees het, het ek besluit dat dit is wat ek wil aanpak.

Dit is die eenvoudigste ding en baie maklik om gaste mee te beïndruk. Al wat jy benodig is kommersiële roomys, ‘n koekpan, en opgekapte sjokolade en neute vir karakter. Vir hierdie roomyskoek het ek besluit op wit Toblerone met nougat, ʼn houer vars Woolies bloubessies en ʼn handvol pekanneute. Hierdie kan natuurlik verander word volgens voorkeur, asook die tipe roomys wat gebruik word. My gekose roomys was Woolies se CarbClever vanielje roomys en dit is ʼn lekker, tog gesonde opsie (ek is maar eintlik ʼn gelato meisie, maar omdat die beminde op ʼn gesonde streek is probeer ek hom ondersteun sover as wat ek kan). Indien jy vanielje roomys gebruik kan jy selfs net gerasperde suurlemoenskil inmeng net om die roomys so bietjie te skel.

Die uitdagendste deel van hierdie hele storie is net om winkel toe te gaan en jou bestanddele te koop. Van daar af is dit die maklikste ding in die wêreld.

 img_0006

STAP 1

Laat die roomys sag genoeg word sodat dit geroer kan word. Pasop dat dit nie te veel smelt nie, want sommige kommersiële roomys het die neiging om te kristalliseer wanneer die weer gevries word.

STAP 2

Meng jou gekose bestanddele in die roomys.

STAP 3

Voer die koekpan uit met kleefplastiek.

STAP 4

Skep die roomys oor in die koekpan en plaas in die vrieskas totdat dit ten volle gevries is.

STAP 5

Plaas die bord wat die roomys op bedien gaan word vir ʼn paar minute in die vrieskas voordat die nagereg voorgesit gaan word. Hierdie sal tot ʼn sekere mate keer dat die roomys nie te vinnig smelt nie.

STAP 6

Plaas die bedieningsbord bo-op die koekpan en dop dit om. Die roomyskoek is veronderstel om sorgloos saam met die kleefplastiek uit die koekpan uit te kom. Trek dan die kleefplastiek van die roomys af.

STAP 7

Sit voor met ʼn versiersel of twee (ek het Flake en vars bloubessies oor die koek gestrooi).

 

One thought on “Parlour toe!

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s