Burgeroorlog in die Boland

Tot my grootste skok het ek die week besef dat ek in Januarie laas enige iets geskryf het. Hoe kon ek myself en al vyf lesers (hi, ma!) in die steek laat? Wel, baie het gebeur. Ek het my werk bedank. My ma het Wolseley toe getrek. Ek moes uit haar huis uittrek en my kennisgewingperiode in Bellville gaan uitleef. My werk se kantore het geskuif. Ek moes soggens dou voor dag opstaan om die N1 verkeer te mis. Ek het ’n serp by Zara gekoop. My stiefbroer is oorlede. Ek het Lakeside toe getrek. Ek het alles in bokse in my nuwe kamer gelos en na Hermanus toe gevlug vir ’n langnaweek. Ek het ’n nuwe werk begin. Na ses weke was my kêrel weer by die huis – en vir ’n week lank het ek heen en weer van Stellenbosch af Westlake toe gery.

Die storm is nou uiteindelik verby. Dis Dinsdagmiddag en ek is so siek soos ’n hond. En om dinge te vererger mis ek Taco Tuesday by die werk.

My afgelope week van heen en weer ry het my die bynaam Petrus die Platsak Papegaai gegee, maar dit was elke sent werd. My kêrel is die tipe persoon met absolute ambisie en wat die bul by die horings pak. Sonder om te blik of bloos jaag hy sy drome na. Hierdie beteken wel dat ek hom slegs elke sewende of agste week sien. As ek gelukkig is, is daar ’n oproep op ʼn Sondag. Maar die afgelope week het ek hom elke dag gesien.

Ons het ons tyd saam behoorlik benut. Ons het my gunsteling restaurant in Paternoster, Voorstrandt, besoek en die alombekende burger-aand van Marinus Wijnbeek bygewoon. Ons het ons twee-jaar-saam by Fat Butcher gevier, en as ’n laaste familie-maaltyd het die twee van ons en sy familie gaan sien wat Indochine by Delaire Graff te ete het.

Die plek wat altyd besoek word wanneer ek of hy in Stellenbosch is, is De Vrije Burger. Uiteindelik ’n burger-Mekka vir die Eikestad. Die plek is eenvoudig, modern en maak nie verskonings nie. Daar is een burger op die spyskaart met drie verskillende add-ons beskikbaar. Dit sluit in spek, gerookte chilli-sous en Melrose & biltong. Ek kan die chilli-sous aanbeveel – dit het net genoeg skop, maar oorweldig nie die res van jou burger-ervaring nie.

Tjips en uie-fritters is addisioneel en opsioneel. Neem in ag dat die burger geensins skaam is in terme van grootte nie voor jy enige van die bykosse bestel. Daar is ook ʼn slaai op die spyskaart vir diegene wat verplig genoeg voel om anders te wees.

Daar is bier, daar is wyn en daar is koeldrank vir die kinders. Maar let wel dat hierdie nie die plek vir ’n familiereünie of ʼn 21ste is nie. Dis nie ’n neersit-restaurant nie, maar dis ook nie heeltemal ’n wegneemeteplek nie. Ek sou dit meer omskryf as ’n plek vir die vinnige samekoms van vriende om die beste burger in die dorp te geniet en dan verder by die huis te gaan drink en skinder.  

Die burger herinner my aan die burgers wat ʼn mens by ʼn laerskool atletiekdag of basaar sou kry. Vars, eg en heilsaam. Die De Vrije-burger bevat kraakvars blaarslaai, uie, tamatie, ʼn kaas-kombersie, agurkie en ʼn pattie wat jou herinner hoe vleis eintlik moet proe.

Dit is hier by De Vrije Burger wat ek ’n laaste maaltyd met die kêrel geniet het. Ek het lieflik in die herfs-son gebak en selfs in ’n Instagram-storie verskyn. De Vrije Burger is nie die plek waar ʼn mens vir ure lank vertoef nie, maar dit hang seker af van die hoeveelheid wyn wat bestel word. Na slegs een bottel sauvignon het ons die pad gevat. Ouers moes gegroet word en tasse moes gepak word.

ʼn Mens sou dink dat ek nou al gewoond sou wees aan totsiens sê, maar elke koebaai is anders. Soos wat ek hierdie skryf hoop ek dat soutwater goed is vir my gesig. Môreoggend sal ek weer opstaan, hopelik minder siek, my alles-is-oukei gesig aanplak en die wêreld aandurf. Ek sal seker binnekort weer in Stellenbosch wees om een van hierdie fantastiese burgers te verorber, maar ook om terug te keer na die laaste plek waar ek en my kêrel die dag saam geniet het voor hy oor sewe weke weer terugkom.

IMG_0560

2 thoughts on “Burgeroorlog in die Boland

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s