Blommetjie gedenk aan my

Dis weer daardie tyd van die jaar wat die Namakwaland floreer en al Darling se akkommodasie vol bespreek is weens die blommeskoue. Vir die eerste keer verskaf meer en meer winkels eetbare blomme, heel moontlik om mense uit ander se tuine uit te hou. Tog word dit so gou uitverkoop dat ’n mens in elk geval jou buurvrou se tuin moet kaalpluk. Ter viering van die lente-seisoen het ek besluit om te doen wat ek die beste doen naas praat oor kos, en iets maak met seisoenale blommetjies. Daar is heelwat blommeresepte daar buite: van laventel-sponskoek, kolwyntjies met roosblare, blomme in ysblokkies, en kappertjies in slaaie. Ek besluit toe op gevriesde gemmer-en-kaneel jogurt-lollies, want warm weer is op pad en die mens hou van vinnige en moeitelose resepte.

Jy benodig:

Fyngemaalde kaneel
Fyngemaalde gemmer
Strooisuiker (of heuning)
Gewone dubbelroom-jogurt
Roomysvorms
Roomysstokkies
Eetbare blomme

Metode:

  1. Meet die jogurt met ʼn eetlepel af en skep dit in ʼn mengbak. My vorms het elk 4 opgehoopte eetlepels bevat.
  2. Voeg die 1 teelepel suiker per vorm, 1 teelepel kaneel en ½ teelepel gemmer by die jogurt. Meng goed en proe. Die hoeveelheid kaneel, gemmer en suiker hang als van jou persoonlike smaak af.
  3. Spuit die binnekant van die vorms met kleefvrye sproei – hierdie gaan help dat die blommetjies nie oral rondval nie. Plaas die blomme aan die kante van elke vorm.
  4. Skep die jogurt-mengsel versigtig in die vorms in – probeer tussen die blomme werk.
  5. Plaas ʼn roomysstokkie in die middel van die vorm en vries.

Die doel van die resep was om die jogurt ‘n kerskoekie-smaak te gee. Omdat gemmer en kaneel sulke sterk geure is, verg hierdie resep ʼn proe-proe benadering. Ek het nie die grootste soettand op aarde nie, en het dus ongeveer een teelepel suiker per roomysvorm gebruik. Let wel dat hierdie jogurt-lollies nie oornag of enigsins langer as 2 ure gevries moet word nie, want al dit te lank gevries bly vorm kristalle wat die romerigheid van die jogurt verminder. Die lollies moet basies net-net gevries wees. Indien jou plaaslike winkel nie eetbare blomme verskaf nie, kan jy gerus angeliere, kappertjies, gesiggies, viooltjies, rose of laventel uit jou eie tuin pluk (of die tannie s’n langsaan).

Voordat jy enige blom of plant uit jou tuin uit pluk en in jou kos gebruik moet jy 100% seker maak dat dit wel veilig is om te eet!

2 thoughts on “Blommetjie gedenk aan my

Lewer kommentaar