Apfelstrudel

Ek het nog altyd geld gespaar. Ek weet nie wat dit aangespoor het nie, niemand het my dit geleer nie. In laerskool sou ek my snoepie-geld in my Space Case bêre sodat ek op ’n  Vrydag genoeg geld sou hê vir ’n ham-en-kaas-pastei en ’n Coke.

As ’n volwassene werk ek nou met groter bedrae en groter bederfies. Sedert my eerste amptelike salaris het ek geld begin wegsit vir ’n Euro-trip. Bietjie-bietjie elke maand. Ek het nie ’n spesifieke bestemming ingedagte gehad nie wat dinge moeilik gemaak het (eerste wêreld probleme, né?) Ek moes iewers ’n balans vind tussen waar ek nog nie was nie en waar ek mense ken (vriende se rusbanke en opblaasmatrasse is veel goedkoper as hotelle en Airbnb’s).

Ek het twee reisagentskappe besoek en menigte webtuistes in incognito mode deurgesoek vir die beste vlugte in terme van prys en tyd. Omdat ek nie die internet vertrou nie, het ek op ’n Dinsdagmiddag na werk die eerste reisagentskap vir ’n tweede keer besoek en met ’n bewende hand my bankkaart oorhandig. Dis bevestig, ek word 28 volgende jaar in Europa  – die duurste verjaarsdaggeskenk wat ek nog ooit vir myself gekoop het. (As enige iemand my visums se kostes wil dek is julle meer as welkom).

Die laaste paar dae van my besoek gaan ek in Wene spandeer. Ek het nog altyd ’n romantiese beeld van Wene in my kop gehad. Dis heel moontlik weens die boekies wat ek as kind oor klassieke komponiste gelees het. Ek het besluit dat ek ’n egte Weense koffiehuis gaan besoek en ’n Einspänner drink, die opera gaan kyk (befondsing is hier ook welkom), die alombekende Weense Schnitzel eet, en natuurlik: Apfelstrudel.

Siende dat daar nog ’n tydjie voor Februarie lê, het ek die strudel na my toe gebring.

2

Bestanddele

  • filodeeg
  • 5 pink lady appels
  • ½ suurlemoen se sap en skil
  • 70 g suiker
  • ½ koppie rosyne
  • 20 ml brandewyn
  • ½ koppie okkerneute
  • 100 g broodkrummels
  • 3 eetlepels botter
  • versiersuiker
  • 2 eetlepels botter

Metode

  1. Voorverhit oond tot 180.
  2. Maak seker die deeg is ontdooi.
  3. Plaas rosyne in ’n bakkie en sprinkel brandewyn eweredig oor.
  4. Skil die appels en sny in dun skuifies.
  5. Smelt die botter in ’n pot en meng die broodkrummels daarby. Voeg die neute by die bottermengsel.
  6. Meng die appels, lemoensap en –skil, kaneel, rosyne en suiker saam met die bottermengsel.
  7. Plaas een vel filo op ’n werkblad en smeer gesmelte botter bo-oor met ’n kwas. Plaas dan ’n nuwe vel bo-op. Herhaal vir 4 tot 5 velle.
  8. Skep die appelmengsel aan eenkant van die filo uit – let wel dat as jy die appelmengsel regoor die deegblad versprei (soos ’n roly-poly) dan moet daar genoeg filo wees wat die inhoud ondersteun. Te veel inhoud kan die deeg in die oond laat bars.
  9. Vou die kante van die deeg om, om te keer dat die appelmengsel uitval.
  10. Rol die strudel soos ’n pannekoek en seël die laaste stukkie filo met botter.
  11. Plaas die studel op ’n bakplaat met ’n laag bakpapier en smeer die laaste gesmelte botter bo-oor die strudel.
  12. Bak vir 30 – 40 min.
  13. Strooi versiersuiker bo-oor en bedien met room of roomys.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s