Ja Nee Cake

Min mense weet dit, maar Marie Antoinette het nooit ‘Let them eat cake’ gesê nie. Nog minder Qu’ils mangent de la brioche wat die eintlike sêding is wat ‘laat hulle brioche eet’ beteken. Jy kan my maar glo, ek het tale en geskiedenis studeer. Die gesegde is eers in 1843 aan Marie Antoinette gekoppel, wat, as jy jou geskiedenis ken, ʼn geruime tyd is nadat sy haar kop verloor het.

Dis selde dat ek self my kop vir fyngebak verloor. Ek verstaan ook nie hoe mense stroopsoet goed soos kondensmelk in aartappelslaai kan eet, maar dan vreeslik ontsteld raak wanneer iemand pynappel op hulle pizza bestel nie (ʼn mens noem dit ʼn fynproewerspallet, mense). Tog sal ek nou en dan myself in die kombuis doenig vind met ʼn koppie suiker.

4

As kind het ek seker amper elke week ʼn koek of kolwyntjies gebak. Die feit dat ek nooit ʼn vet kind was nie is ʼn wonderwerk. Daar was ʼn koek met elke gesinslid se verjaarsdag. Kolwyntjies op Hallowe’en. Allerhande tipe gebak regdeur die jaar behalwe op Kersfees – dan het ons net die gevriesde sponskoek ontdooi en koekstruif gemaak.

Soos wat die jare aan beweeg het, het ek minder verjaarsdagkoeke gebak en meer gefokus op enige iets wat ʼn crowd-pleaser kan wees soos Crème brûlée, gebakte kaaskoek, ʼn brood hier en daar, ensovoorts.

Die opwinding van koekbak is dat dit jou kreatiwiteit en geduld kan uitdaag. Toe ek besluit het om hierdie koek te bak, wou ek dit met ʼn invalshoek benader anders as dit net te versier met ʼn magdom botter en versiersuiker. Hier in Muizenberg is daar ʼn Hibiskusbos in elke tweede tuin, en gelukkig ook een in my voortuin. Met dié pragblom en die somervakansie wat ek nie gekry het nie (as jy by die see woon, is jy mos permanent met vakansie?) as inspirasie, ʼn Franse-vanieljekoek met ʼn  rosé-jellie bolaag.

2

Bestanddele

  • 100 g ongesoute botter
  • 200 g suiker
  • 4 eiers, kamer temperatuur
  • 2¾  koppies meel
  • 2¼  teelepels bakpoeier
  • ¾ teelepel sout
  • 1 koppie melk
  • 2 eetlepels vanieljegeursel

Metode

  1. Voorverhit die oond op 180°C en spuit twee losboompanne van 23 cm by 9 cm met kleefvrye sproei.
  2. Sif die droë bestanddele saam en plaas een kant.
  3. Gebruik ’n menger en klits die botter vir 3 minute tot lig en donsig. Voeg die suiker by en klits vir nog 3 minute. Voeg die eiers een vir een by en meng deeglik.
  4. Voeg die droë bestanddele by, 100g op ʼn slag, en die melk bietjie-vir-bietjie.
  5. Gooi die deeg in die twee panne en bak vir 25 tot 30 minute of tot wanneer ’n tandestokkie skoon uitkom. Plaas op ʼn afkoelrak.

Versiersuiker

  • 2 koppies versiersuiker
  • 100 g sagte botter
  • 2 eetlepels vanieljegeursel

In ’n menger, meng 100 g sagte botter, die versiersuiker en 2 eetlepels vanieljegeursel. Versier die koek na hartelus.

Rosé Jellie (Bibby’s Kitchen)

  • 350 ml rosé
  • 4 eetlepels gelatienpoeier
  • 60 ml suiker
  • hibiskusblomme vir versiering

Gooi rosé en suiker in ʼn pot en verhit totdat die suiker opgelos is. Gooi die gelatien by en klits. Moenie laat dit kookpunt bereik nie. Plaas een kant en laat dit afkoel. Gebruik een van die losboompanne en bedek die bodem met sterk foelie of kleefplastiek. Plaas jellie in die pan en dan in die yskas om te stol (3 tot 4 ure). Verwyder die jellie met sy foelie of plastiek bodem uit die koekpan en plaas versigtig onderstebo op die koek. Verwyder die kleefplastiek of foelie en versier met hibiskusblomme.

Wenk: op warm somersdae is dit slim om die versierde koek in die yskas te plaas terwyl jy die jellie voorberei.

1

 

 

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s