Marlia se Brownies

Hierdie jaar is dit al tien jaar sedert ek matrikuleer het. Daar is nog nie ’n reünie beplan nie, en gegewe die wêreld se huidige toestand gaan daar dalk nie eers een wees nie. Maar dis oukei, my ma het in elk geval gesê dat die tienjaarreünie die ene is waar almal gaan om af te show hoe baie van ’n yuppie hulle geword het.

Meeste van my kollegas het al vertel hoe hulle nie van hoërskool gehou het nie. Ek kan gelukkig nie dieselfde sê nie. Buiten die wiskunde wat ek nooit gesnap het nie en ’n musiekjuffrou wat op my geskree het, was hoërskool nogal lekker. Dis met nostalgiese oë wat ek terugkyk op ’n sorgelose tyd van onskuldige naweekkuiers, braais saam met vriende, rond lê in malls, en elke tweede naweek ’n nuwe band stig – yours truly op tromme.

My kameraad gedurende hierdie tyd was Marlia Carstens. Ons het in Gr.8 ontmoet en omdat ons dieselfde van gehad het, het ons langs mekaar in registerklas gesit. So het ons ook langs of naby mekaar in Afrikaans, Engels, en Lewensoriëntering gesit. Sy was wel die Carstens met  ’n beter begrip van wiskunde, dus was ons nie vir al ons hoërskooljare in dieselfde wiskundeklasse nie.

Enige iemand wat vir Marlia op skool geken het sal sekerlik dié drie dinge van haar onthou: sy het ’n raserige, rooi Volla in matriek gekry – die eerste een van ons met behoorlike wiele, sy het ’n besonderse liefde en passie vir perde gehad (en só baie tiener-perdeverhale gelees), en sy het die lekkerste brownies gebak wat sy by die skool sommer in die klas verkoop het. As ek gelukkig was het ek in die laaste periode van die dag ’n roomysbak vol krummels gekry!

Dis nou tien jaar later en die einste brownies het onlangs hulle herverskyning in my lewe gemaak toe ’n kollega verjaar het. Marlia woon deesdae in Nieu-Seeland saam met haar man en is nog steeds doenig met perde. Ons paaie mag dalk in verskeie rigtings (en kontinente) geloop het, maar sonder dat sy dit besef, het sy haarself in my lewe verewig op die beste manier moontlik: kos.

Untitled design (3)

Bestanddele

  • 250 g botter
  • 1 pak Mariebeskuitjies
  • 500 g versiersuiker
  • 2 eiers
  • 40 g kakao

Metode

  1. Plaas die botter in ’n bak en smelt dit in die mikrogolf.
  2. Sif die versiersuiker en kakao en roer dit by die botter.
  3. Klits die eiers en roer dit ook by.
  4. Plaas die mengsel in die mikrogolf vir 2 minute op hoë hitte.
  5. Breek die beskuitjies in stukkies en meng dit by die mengsel.
  6. Skep die mengsel in ‘n 20 x 30 bak en plaas dit in die yskas totdat dit styf word.
  7. Sny dit in blokkies en geniet!

2 thoughts on “Marlia se Brownies

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s